Disipline Bring Sekuriteit

News originally posted : 2018-02-20.

Kinders benodig ook Staatsrede,

Suid-Afrika se nuwe fokus na verlede week se politieke omwenteling en die Staatsrede moet ook deurgedra word na kinders. Volgens Hanlea van Schalkwyk, hoof van Babbel en Krabbel Kleuterskool en Ebenezer Leersentrum, moet die fokus van ouers verskuif na dit wat werklik goed en belangrik is vir kinders, en weg van dit wat gemaklik en gewild is. “Dit is so maklik om opgesweep te raak in dit wat almal rondom jou doen,” sê Van Schalkwyk. “Ouers moet egter nou ook seker maak dat hulle kinders sal kan bydra in ‘n Suid-Afrika wat volgens President Ramaphosa van nou af gebou gaan word op integriteit en harde werk.” Van Schalkwyk sê dat die sleutel daartoe in ons kinders se emosionele versorging lê. “Ongelukkig is goeie voornemens nie genoeg is nie. In ons gejaagde lewe is dit nog relatief maklik om te sorg vir die fisiese benodighede van ons kinders; kos, klere, en veiligheid,” sê Van Schalkwyk. “Dit neem egter heelwat meer tyd en aandag om kinders emosioneel veilig te laat voel. Dit is iets wat geld, status en fisiese harde werk nie kan koop nie.” Begin klein Om ‘n manier van doen te verander – hetsy vir ‘n land of vir ‘n huisgesin – gebeur nie oornag nie. Van Schalkwyk stel voor dat ouers met klein stukkies ekstra tyd saam begin. “Die vyf minute wat jy saam met jou kind op die bank sit en Sponge Bob kyk – al kan jy die geel vierkantjie nie verdra nie – is vir jou kind goud werd, en laat hulle belangrik voel.” Maak seker almal verstaan wat van hulle verwag word Roetine in ‘n huishouding is van kardinale belang om kinders emosioneel versorg te laat voel. Dit skep ‘n kultuur van ooreengekome verwagtinge waaraan almal verantwoordbaar is. “Roetine is vir kinders soos ‘n onsigbare kragveld; dit spoor gereelde aktiwiteite aand en stel hulle in staat om te weet wat volgende gaan gebeur,” sê Van Schalkwyk. “In ‘n tyd waar kinders deurlopend aan verandering blootgestel word, is hierdie betroubare gebeure iets waarin hulle kan vertrou.” Wanneer daar ‘n gebrek aan roetine bestaan is daar geen standvastigheid waarop ‘n kind kan vertrou nie, en dus bly sy lewe ‘n warboel van verandering, onsekerheid en wantroue. Volgens Van Schalkwyk is hierdie gevoelens is net so oorweldigend vir kinders as wat die politieke onstabiliteit van die afgelope paar weke vir ons as grootmense was. Skep ‘n realistiese omgewing Roetine moet egter gebalanseer word met die vaardigheid om vinnig aan te pas wanneer dinge nie volgens plan loop nie. Dis hier waar dissipline inkom. “Dissipline bied riglyne vir die speelveld waarin ‘n kind optree,” verduidelik Van Schalkwyk. “Die speelveld, en dus die reëls, sal anders lyk gebasseer op elke kind en gesin se omstandighede.” “Kinders het egter nodig om – ten spyte van verandering en verskille – respek vir hulleself, ander, en die wêreld rondom hulle te hê.” Dit is nodig dat kinders vroeg leer wat aanvaarbaar is in verskillende sosiale situasies, en hoe om probleme op te los sonder om ander seer te maak. “Kinders moet leer dat elke aksie ‘n gevolg het en dat hulle verantwoordelikheid moet neem vir gevolge van die besluite wat hulle geneem het,” sê Van Schalkwyk. “Slegs deur ons kinders te dissiplineer – hulle te herinner aan die reëls van die lewensspel – kan ons hoop om kinders groot te maak wat ‘n bydrae kan lewer tot ‘n mededeelsame, respekvolle Suid-Afrika.”

Leave a Reply